HISTORIESE OORSIG 1904 – 2025
“Werk is Kuns”
Deur die eeue heen laat elke mensegeslag spore van sy bestaan agter in die vorm van potskerwe, bouvalle met skadu’s teen effens-mure, rotstekeninge in ‘n gloed van bruinrooi. Monumente uit die ver verlede… Dis Februarie 1904. Die warm Laeveld son brand fel op die bruin aarde neer. En elf rye voetspore stap ‘n opwindende toekoms binne. Ons eie skool!
‘n Grootste gevoel van trots en ontsag vul elke aar as ek dink dat ons die voorreg het om presies honderd-een-en-twintig jaar na hierdie besondere dag getuies te kan wees van die sukses van Laerskool Witrivier! Na baie snuffelwerk in ‘n skatkis van ou dokumente en jaarblaaie is dit vir my ‘n voorreg om stukkies interessante inligting met julle te deel. Dit was die maklikste ding in die wêreld om weg te raak in die geskiedenis en prentjie-gedagtes op papier te sit.
Slegs ‘n maand na die amptelike opening van die “goewerment skooltjie” met Mnr G.E. Davies as hoof het ‘n verdere 27 leergierige leerlinge by die eenvoudige gebou in Peter Grahamstraat ingestap. Nie net was dit ‘n plek van onderrig nie, maar die agterste gedeelte van die eenvertrek skooltjie moes herberg bied aan die eerste onderwyser en sy gesin. ‘n Voedingskombuis, wat deel van die ou gebou uitgemaak het, is op ‘n gereelkde basis as vergadersaal vir verskillende kerkgenootskappe gebruik, vrolike danspartye is ook hier gehou en die White River Farmers Association het hier tot laatnag gesels oor wind en weer. ‘n Ware kultuurfort!
Die eerste skoolbanke het al die pad van die Burger-kampskool in Barberton gekom, en grondvloere het vir die res van die eiesoortige atmosfeer gesorg. Met groot vermaak het ek ‘n inspekteursrapport, gedateer 16 September 1904, raakgelees: “School Room and Teachers Quarters… in a good state of repair but some allowance should be granted to the Principal in order to enable him to do such work as smearing the floor.” Nou ja, plankvloere is in Maart 1906 ingesit, ter vreugde van die kinders wat toe ‘n hele week se vakansie pasella kry. Op 17 September 1904 is die eerste bome geplant, en dit was duidelik dat meer ruimte steeds ‘n groter behoefte geword het weens die toename in leerlinge. ‘n Nuwe skoolgebou met drie klaskamers is egter steeds in 1926 voltooi, en spoedig daarna moes weer aangebou word. ‘n Nuwe vleuel met ‘n verdere drie klaskamers is in 1931 aangevoor, en by die voltooiing daarvan het die destydse skoolkommissie besluit om die nuwe vleuel na die destydse L.P.R., ene Raubenheimer, te vernoem.
Die stygende leerlinggetalle het hand aan hand gegaan met ‘n besondere skoolstatus… op 1 Augustus 1929 is die skool tot PIII skool geproklameer, dit wil sê, ‘n skool met ‘n inskrywing van meer as 100 leerlinge. Tydens die Kroonkolonie-jare is leerlinge in Engels onderrig, en slegs Bybelgeskiedenis is in Hollands gedoseer. In sy eerste inspeksie rapport, gedateer 17 November 1905, verheug die inspekteur hom oor die feit dat die leerlinge in so ‘n kort tydjie soveel kennis van Engels opgedoen het. Hierdie toestand kon egter nie langer voortduur nie, en op 20 Oktober 1908 bring inspekteur Klooster die volgende rapport uit: “in deze school is het medium van onderwys Engels. Volgens de eis van de tegenwoordige wet en cirkulaire No. 1 1908 moet’t medium hier Hollands zijn. De onderwyzer,…., moet Zorgen dat z’n school geleidelik komt op het standpunt van de Wet.” Met sy volgende besoek in September 1909 kon inspekteur Mills dan ook rapporteer dat: “Dutch has now been definitely adopted as the medium of instruction.” Net as interessantheid – Hollands as vak op skool is in November 1917 deur Afrikaans vervang, en op 11 April 1926 is ‘n onderwyseres aangestel om die eerste 16 Engelssprekende leerlinge te onderrig.
Vervoer was in daardie dae maar redelik yl gesaai, en dit was niks buitengewoons vir die kinders om afstande van 5 en 6 myl te voet af te lê na die skool nie. As gevolg van die vervoerkwessie was skoolbesoek nie altyd uit die boonste rakke nie, en om hierdie moeilikheid the oorbrug is muile en trollies ingespan! In Februarie 1928 is die eerste busvervoer ingestel nadat Plaston-skool hierheen gesentraliseer is. Die behoefte aan ‘n losiesinrigting het reeds so vroeg as 1918 ter sprake gekom, maar dit was nie voor Januarie 1936 dat die eerste koshuis – ‘n woonhuis met buitekamers – geopen is nie. Spoedig hierna was meer huisvesting nodig en die oorspronklike ou skoolgeboutjie is toe ook vir hierdie doel gebruik. En is dit nie wonderlik om te dink dat die sirkelgang deur die uiters bekende Afrikaanse kunstenaar, Pierneef, ontwerp is nie!
Menige akademiese beeldhouer se beitel het gehelp vorm en slyp aan die kunswerk van vandag. Name rol soos ‘n film verby, ongetwyfeld met stories en staaltjies te vertel. Van hierdie “beeldhouers” van ouds was:
E. Davies 1904 – 1908
G. Nysse 1908 – 1915
Breytenbach 1915 – 1917
P. Powell 1918 – 1922
P.O.R. Friedrich 1922 – 1923
S.W. du Preez 1923 – 1926
F. Davey 1927 – 1934
R.S. Ferreira 1935 – 1936
A. Barnard 1937 – 1943
P.H. Kat 1943 – 1954
J.F. Naude 1955 – 1955
P.H. Kat 1956 – 1966
P.G. van Rooyen 1967 – 1976
J.P. Grovè 1977 – 1977
W.A. Nel 1978 – 1993
A.J. Schlemmer 1994 – 2002
F.P. v/d Riet 2002 – 2020
R. Cooper – 1 Augustus 2022 – Huidig
Geskiedenis staan egter nooit stil nie. In die derde skooltermyn gedurende 1963 is die skoolgebou soos ons dit vandag ken in gebruik geneem. Die skoollied is hier heel van pas: “soos Witrivier se strome van ver deur ruigtes vloei, het ons skool van ver terug deur ruigtes van die tyd bly groei!” Laerskool Witrivier se strewe na parallel-medium onderrig, hoë akademiese standaarde en ‘n reënboog van buite kurrikulêre aktiwiteite is ‘n fantastiese voorbeeld van ware etos en karakter.
Groot feesvieringe het Witrivier binnegeval toe Laerskool Witrivier op 6 Februarie 2004 die eeuwording herdenk het. Die dag het vir eindelose pret gesorg met ‘n optog deur die strate, ‘n kruiwa-resies en toutrekkompetisie, en ‘n piekniek op die sportvelde om die historiese dag mee af te sluit. Mnr. Rian Cooper, personeel en leerlinge hier het alle rede om trots te wees op hierdie Laeveldse skat. Nie net vul Laerskool Witrivier se wortels ‘n mens met wonder nie, maar ook die sekere wete van waarheen hulle op pad is.